Man in sop wat Obama glo wou vermoor
2011-11-18 10:07
Washington – ‘n Man wat na bewering pres. Barack Obama die “duiwel” en die “antichris” genoem het, is daarvan aangekla dat hy ‘n sluipmoord op die president wou uitvoer.
Oscar Ortega-Hernandez (21) is Donderdag aangekla nadat hy die vorige dag deur die polisie by 'n hotel naby die dorp Indiana, Pennsilvanië, vasgetrek is.
Die polisie was op sy spoor nadat geweerskote verlede Vrydagaand naby die Withuis gehoor is.
'n Koeël is in die koeëlvaste glas van 'n buitevenster van die presidensiële woning gekry, terwyl nog 'n koeël buite die huis opgespoor is.
Obama en sy vrou, Michelle, was tydens die voorval nie tuis nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP