Man in hof wat vrou glo in winkel onthoof
2013-02-18 15:53
Tenerife – Die verhoor van 'n Bulgaarse man met ‘n geestesversteuring, wat na bewering ‘n Britse vrou in ‘n winkel op die Spaanse vakansie-eiland Tenerife onthoof het, het Maandag begin.
Deyan Valentinov Deyanov (29) en sy prokureur was Maandag by die openingsitting van die verhoor by die provinsiale hof in Santa Cruz de Tenerife, het ‘n woordvoerder van die hof gesê.
“Ons weet nie hoe lank die verhoor sal duur nie,” het sy gesê.
Aanklaers gaan na verwagting vra vir ‘n vonnis van 20 jaar in ‘n fasiliteit vir geestesversteurdes, aangesien hy chroniese paranoïese skisofrenie het, sowel as die betaling van €200 000 (R2,4 miljoen) in skadevergoeding aan die slagoffer se familie.
Deyanov staan tereg op aanklagte dat hy die 60-jarige Jennifer Mills-Westley in Mei 2011 in ‘n Chinese algemene handelaar in Los Cristianos in Arona, op die suidelike deel van Tenerife, gesteek en onthoof het.
Die polisie het hom in hegtenis geneem terwyl hy met ‘n sekuriteitswag gestry het in ‘n poging om te ontsnap. Hy het glo uitgeroep: “God is op aarde”.
Getuies het gesê hulle het gesien hoe ‘n man die winkel verlaat met die vrou se bebloede kop in sy hand, waarna hy dit op die sypaadjie neergegooi het.
Die slagoffer se dogters, Sarah Mears en Sam Gomes, sê dit gaan “'n uitdaging” wees om terug te keer na Tenerife vir die verhoor en het die media gevra om hul privaatheid te respekteer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP