Man in hof vir ontvoering, moord van vyfjarige
2012-10-08 09:25
Londen – Die man wat daarvan beskuldig word dat hy April Jones ontvoer en vermoor het, sal in 'n magistraathof in Aberystwyth verskyn, het Sky News berig.
Mark Bridger (46) word ook van regsverydeling aangekla.
Die vyfjarige Jones is 'n week gelede naby haar huis in Machynlleth sien speel voordat sy in 'n Land Rover Discovery geklim het.
Honderde mense het Sondag in die stad bymekaargekom vir 'n stille betoging, wat gevolg was deur 'n spesiale kerkdiens.
Jones se ma, Coral (40), het die afgelope naweek op Facebook geskryf: "April is nog nie gevind nie, ek hoop steeds sy kom huis toe, so asseblief soek na my babameisie, April, sy is ons wêreld, die hele familie is verpletter omdat ons nie weet waar sy is nie."
Vrywillige bergreddingswerkers het Maandag hul soektog begin afskaal omdat die werk meer gepas is vir soekspanne van die polisie.
Matthew Wood (20), wat beledigende kommentaar oor die vermiste meisie op Facebook geplaas het, sal later in 'n magistraathof in Lancashire verskyn.
– Sky News.
– Volg Nuus24 op Twitter.