Man in Suid-Korea gekruisig
2011-05-04 09:51
Seoel – Suid-Koreaanse polisie sê hulle het die lyk van ‘n man, wie se hande en voete aan ‘n houtkruis vasgespyker is, gevind.
Die polisie sê die 58-jarige man wat gekruisig is, is Sondag in ‘n verlate steengroef in Mungyong, sowat 190 km suidoos van die Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel, gevind.
Volgens die polisie het hulle nylon-toue om die man se nek, arms en maag gevind.
Hulle sê twee kleiner kruise was aan die kante van die kruis waaraan hy vasgespyker is, opgerig.
Die polisie het spykers, ‘n hamer en instruksies van hoe om ‘n kruis te bou, binne ‘n tent naby die toneel gevind.
Die presiese oorsaak van die man se dood sal deur die polisie ondersoek word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP