Man hang homself ná hy stiefdogter vermoor
2011-10-17 14:29
Wene – Die stiefpa en moordenaar van ‘n tienermeisie het homself in sy tronksel gehang, het die owerhede gesê.
Volgens die owerhede is die 48-jarige man Maandag dood verklaar nadat hy selfmoord gepleeg het.
Die man en sy 19-jarige seun, wie se name nie genoem is nie, het erken dat hulle Pauline (14) in Julie in Bad Ischl, Oostenryk, op pad skool toe ontvoer het.
Die verdagtes het ook erken dat hulle haar vermoor en later haar lyk in 'n woud begrawe het.
Die stiefpa het aan ondersoekers gesê hy het stemme in sy kop gehoor. Dié stemme het gesê hy moet die meisie vermoor.
Die man se seun, wat ook in aanhouding is, het gesê sy pa het hom met ‘n mes gedreig en geforseer om hom te help.
Volgens die owerhede sal ‘n nadoodse ondersoek op die man uitgevoer word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP