Man gehang wat vyfjarige verkrag, vermoor
2011-07-17 19:03
Tehran – ‘n Man wat daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n vyfjarige meisie verkrag en vermoor het, is in Iran gehang in ‘n dorp naby die suidelike hawestad Bandar Abbas, het die ISNA-nuusagentskap Sondag berig.
Die verslag het die moordenaar by sy voorletters, Q. K., geïdentifiseer en bygevoeg dat hy die meisie, wat sy vrou se suster was, begrawe het nadat hy haar verkrag en vermoor het. Luidens die verslag is hy Woensdag in ‘n gevangenis naby Bandar Abbas gehang.
Dit bring die somtotaal van mense wat tot dusver vanjaar in Iran gehang is tot op 161, volgens ‘n telling deur AFP wat op mediaberigte gebaseer is.
Die Irannese media het verlede jaar berig oor 179 mense wat gehang is, maar internasionale menseregtegroepe sê die werklike getal is veel hoër. Slegs in China is meer mense verlede jaar tereggestel.
Die Irannese media sê die doodstraf is nodig om wet en orde te handhaaf en word slegs uitgevoer ná deeglike verhore. Moord, verkragting, gewapende roof, dwelmhandel en owerspel tel onder die misdade wat in Iran met die dood gestraf kan word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP