Man erken hy was betrokke by Moslem-rolprent
2012-09-13 17:10
Los Angeles – ‘n Koptiese Christen van Kalifornië wat voorheen skuldig bevind is aan finansiële misdade is ondervra oor 'n uitlokkende rolprent wat glo beledigend is teenoor Islam.
Dié rolprent was die middelpunt van gewelddadige betogings in Egipte en Libië wat ook tot die dood van die Amerikaanse ambassadeur in Libië en drie ander beamptes gelei het.
Hy het ook erken dat hy betrokke was in die bestuur en logistiek van die produksie van die film.
Nakoula Basseley Nakoula (55) het in ‘n onderhoud met die Associated Press gesê dat hy betrokke was in die logistiek van die film Innocence of Muslims, wat die spot dryf met Moslems en die profeet Mohammed.
Hy het ook die eerste besonderhede bekendgemaak oor ‘n produksiegroep wat agter die rolprent is.
Nakoula het ontken dat hy die regisseur van die film is en sê hy ken die filmmaker, Sam Bacile.
Nietemin is die selfoonnommer wat AP Dinsdag gebruik het om die beweerde filmmaker Bacile te bereik na dieselfde adres naby Los Angeles gevolg waar die agentskap vir Nakoula opgespoor het.
Volgens hofdokumente maak Nakoula ook gebruik van die name Nicola Bacily, Erwin Salameh en ander.
Nakoula het aan AP gesê hy is ‘n Koptiese Christen en sê die regisseur van die rolprent se doel is om Koptiese Christene te ondersteun weens hulle behandeling deur Moslems.
Nakoula ontken egter dat hy voorgegee het om Bacile te wees.
Tydens ‘n gesprek buite sy huis het hy sy rybewys as identifikasie getoon, maar het sy duim oor sy middelnaam, Basseley, gehou.
Pastoor Terry Jones van Gainesville, wat Korans op die negende herdenking van die 9/11-aanvalle gebrand het, sê hy het Woensdag met die vervaardiger van die rolprent op die telefoon gepraat en dat hy vir hom bid.
Hy beweer hy het die man nog nie ontmoet nie, maar die man het hom ‘n paar weke gelede gekontak om oor die bemarking van die rolprent te praat.
“Ek het hom nie ontmoet nie. Sam Bacile, dit is nie sy regte naam nie,” het Jones gesê.
“Ek het met hom op die foon gepraat. Hy kruip definitief weg en wil nie sy identiteit bekend maak nie. Hy was geskok oor die gebeure en oor wat aan die gang is. Baie mense ondersteun hom nou.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP