Man doodgesteek oor sitplek op trein
2009-11-22 20:58
New York – ‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n medepassasier op ‘n trein met ‘n mes doodgesteek het tydens ‘n argument oor ‘n sitplek.
Die verdagte (37) het aangedring daarop dat ‘n hawelose man (36) sy bagasie van die sitplek waar die verdagte wou sit, skuif.
Volgens die koerant New York Daily News het die hawelose man geweier en toe die ander man aangeval. Die verdagte het toe ‘n mes uitgehaal en hom doodgesteek.
“Hy het hom in die nek gesteek en ek dink hy het die hoofslagaar getref. Daar was bloed orals, dit was chaos,” het ‘n ooggetuie gesê.
Die aanval het voor menigte passasiers plaasgevind. Die slagoffer is dood voor die trein die volgende stasie bereik het.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sal aangekla word van moord en die besit van ‘n wapen.
- Sapa