Man brand huis af toe ma speelgoed uit kot gooi
2010-08-25 20:10
Tokyo – ‘n Japannese man het erken hy het sy gesin se huis afgebrand nadat sy ma ‘n paar van sy gunsteling robot-speelgoed weggegooi het.
Yoshifumi Takabe (30) woon by sy ma. Hy het gesê hy het selfmoordgedagtes gehad nadat sy ma van die robotte weggegooi het. Hy het genoeg van dié speelgoed gehad om 300 bokse wat tot die dak toe gepak is, vol te maak, het die Sports Nippon Woensdag berig.
Die brand op 9 Augustus verlede jaar het hul tweeverdieping-huis in Kasai heeltemal verwoes, maar niemand is beseer nie.
Die robotte is op die Gunham-animasiereeks gebaseer.
“Die figuurtjies is soos die maats met wie ek my lewe spandeer,” het hy luidens berigte gesê nadat hy skuld beken het by die streekhof in Kobe.
“Ek wou saam met hulle in die vuur sterf, as hulle weggegooi moes word.”
Die Mobile Suit Gundam-reeks is op ‘n animasiereeks wat in die laat 1970’s begin het, gebaseer. Dit handel oor ruimte-oorloë wat deur reusagtige robotte gevoer word.
- AFP