Man (96) se tweede kind gebore
2012-10-16 15:03
Nieu-Delhi – ‘n Boer (96) in die noorde van Indië beweer hy is die oudste man ter wêreld wat weer pa word, het ‘n koerant Dinsdag berig.
Ramajit Raghav, wat in die Sonipat-streek naby Nieu-Delhi woon, het sy eie rekord gebreek nadat sy eerste kind in November 2010 gebore is. Raghav was toe 94 jaar oud, het die Times of India berig.
Raghav se 52-jarige vrou, Shakuntala Devi, het op 5 Oktober die lewe geskenk aan hul tweede seun.
Die man wat voor Raghav dié titel beklee het, was ook 'n Indiese boer. Nanu Ram Jogi se 22ste kind is 2007 gebore toe hy 90 jaar oud was.
Raghav beweer hy het sy lewe lank selibaat gebly totdat hy sy vrou 12 jaar gelede ontmoet het.
Hy skryf sy vrugbaarheid toe aan die feit dat hy in sy jonger dae ‘n stoeier was. Hy het toe ‘n hoë-kalorie dieet gevolg, wat bestaan het uit ‘n 500 g amandels, drie liter melk en ‘n halwe kilogram botter per dag.
Die berig voeg by dat hy ‘n streng vegetariese dieet volg en dat hy sy lewe lank al ‘n geheelonthouer is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA