Man (75) trou met 13-jarige
2009-09-13 23:44
Dhaka – Amptenare in die suide van Bangladesj stel ondersoek in om uit te vind of ‘n 13-jarige meisie gedwing was om met ‘n 75-jarige man te trou as ‘n wyse om haar pa se skuld af te betaal, het plaaslike media berig.
Lokman Shikder het ‘n paar maande gelede $59 (R440) aan Azhar Bepari, die meisie se pa, geleen, maar Bepari het gesukkel om dit terug te betaal, het die United News of Bangladesh nuusagentskap berig.
Shikder het onlangs aan Bepari die keuse gegee om óf die geld plus rente onmiddellik terug te betaal, óf om hom toe te laat om met sy dogter te trou en dan kan hulle die skuld laat vaar.
Shikder, wat reeds getroud was, is die pa van vier volwasse kinders en het ‘n string kleinkinders, het die nuusagentskap gesê.
Badrul Huq, ‘n regeringsamptenaar in die Barisal distrik, het gesê dat amptenare besig is om ondersoek in die saak in te stel en dat regstappe teen die pa en die man geneem sal word indien daar wel ‘n huwelik plaasgevind het, het die berig gelui.
Mense onder die ouderdom van 18 word volgens wet nie toegelaat om in Bangladesj te trou nie.
Rashida Shirin, ‘n prokureur vir vroueregte, het gesê dat sy die meisie en haar familie sal help indien hulle ‘n hofsaak teen Shikder wil oopmaak, is in die berig gesê.
- Sapa