Man pensioen geweier want hy kort een werkdag
2010-12-21 08:00
Belgrado – ’n Sestigjarige Serwiër is naarstig op soek na ’n werk vir slegs een dag sodat hy kragens wet ná 40 jaar kan aftree, berig die nuusagentskap Beta.
Svetislav Nedeljkovic, wat vir ’n plaaslike metaalfabriek in Suid-Serwië gewerk het, was veronderstel om sy eerste pensioentjek in Desember te ontvang. Hy moes egter tot sy ontsteltenis hoor hy kort een dag se arbeid om in aanmerking vir die pensioenvoordeel te kom.
“Ek is bereid om enigiets te doen om die agt werkure vol te maak,” het Nedeljkovic gesê.
Ingevolge Serwiese wetgewing kan werknemers ná 40 jaar diens aftree, of op 65-jarige ouderdom vir mans en 60 jaar vir vroue.
Die regering het veranderings in die wet voorgestel met die doel om die staatspensioenfonds te verlig.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger