Malema-uitspraak kry aandag in Europa
2011-09-14 08:49
Den Haag – Die bevinding dat Julius Malema, ANC-jeugligaleier, hom aan haatspraak skuldig gemaak het, het groot aandag in die Europese koerante gekry, maar minder as met sy tugverhoor deur die ANC.
Die Londense Independent het geskryf Malema hou homself voor as ’n revolusionêr “in ’n party wat kapitalisties geword het”. Om hom uit die ANC te skors, sou ’n risiko inhou, gesien Malema se gewildheid in die townships.
In The Guardian is geskryf dat die haatspraak-saak ernstige politieke implikasies vir Malema kan hê, maar dat dit ook sy steun in die swart gemeenskap kan vergroot. As Malema in die ANC-tugverhoor onskuldig bevind word, kan dit ’n situasie teweegbring waar Zuma om sy politieke oorlewing sal moet veg.
Die Welt in Berlyn het ’n politieke skets van Malema onder die titel Mandela se duister kleinseun geplaas.
“Hy is ’n egte bedreiging vir die nie onomstrede pres. Zuma, wat hy vier jaar gelede nog onderweg na die ANC-leierskap gesteun het. ‘Ons wil ons grond terughê, en ons wil dit verniet hê!’ donder hy van die verhoog. Daarvoor het hy nie die verlof van die ANC nodig nie.”
Die NRC Handelsblad (Rotterdam) meen: “Die uitspraak is veral ’n simboliese oorwinning vir die wittes wat hulle verteenwoordig voel deur organisasies soos AfriForum. Dié beskou die sing van die lied as ’n oproep tot geweld teen wittes en die oorsaak van die moord op vele honderde wit boere in Suid-Afrika.”
Die koerant noem die uitspraak “verrassend”.
“Die saak draai om die reg van ’n individu op vryheid van meningsuiting teenoor die ‘waardigheid’, soos die regter gesê het, van die Afrikaners. Dit maak dus sin dat Malema appèl aanteken.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad