Maledive: Voormalige president beseer in botsings
2012-02-08 22:04
Maledive – Mohamed Nasheed, voormalige president van die Maledive, is Woensdag beseer en was vir 'n kort wyle in die hospitaal opgeneem nadat hy deur die polisie aangeval is, het 'n familielid gesê.
Nasheed, wat Dinsdag geforseer is om die tuig neer te lê, is saam met verskeie ander lede van sy Malediviese Demokratiese Party beseer.
"Hy was geslaan. Maar hy is nou veilig en by die huis," het Eva Abdulla gesê.
Duisende ondersteuners van Nasheed wat slagspreuke uit ondersteuning vir hom gesing het, het met die polisie en troepe in sentraal-Malé gebots.
Klippe is deur die betogers na die polisie gegooi. Die polisie het op hulle beurt traangas gebruik om die skare onder beheer te bring.
Volgens een van AFP se korrespondente het die polisie later die betogers met hul knuppels geslaan.
Nasheed het bedank nadat oproerige polisiebeamptes in die land die staatstelevisiestasie oorgeneem en saam met opposisie-betogers gevra het dat hy die tuig moet neerlê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP