Mafiabaas wat Scorsese inspireer vasgetrek
2011-06-23 11:03
Los Angeles – Die berugte Boston-mafiabaas James "Whitey" Bulger, wat op die FBI (federale speurdiens) se mees gesoekte lys was vir sy aandeel in 19 moorde, is naby Los Angeles vasgetrek nadat hy die gereg vir 16 jaar lank ontwyk het.
Bulger (81) is Woensdag saam met die 60-jarige Catherine Greig met wie hy al jare lank 'n verhouding het, by 'n huis in Santa Monica in hegtenis geneem.
Hy was die leier van Boston se Winter Hill-bende en het in Januarie 1995 op die vlug geslaan toe 'n voormalige FBI-agent hom gewaarsku het dat hy vervolg gaan word.
Die agent, John Connolly jr., het 20 jaar vantevore vir Bulger gevra om 'n informant te word.
Connolly is in Mei 2002 skuldig bevind op 'n aanklagte dat hy Bulger en sy handlanger Stephen "The Rifleman" Flemmi, wat ook 'n informant was, beskerm het.
Verskeie boeke is al oor Bulger geskryf en hy was ook die inspirasie vir die 2006 Martin Scorsese-rolprent, The Departed.
Lees verder.
Kliek hier vir Google Street View se adres waar Bulger vasgekeer is.
- AP