Madagaskar-leier wil in Maart stem
2009-12-17 04:19
Antananarivo - Die leier van Madagaskar, Andry Rajoelina, het Woensdag aangekondig dat die eilandnasie in Maart 'n parlementêre verkiesing sal hou.
Drie opposisiepartye het verlede week byeengekom om 'n tussentydse regering te skep om die politieke krisis in die land op te los.
Rajoelina het egter nie die vergaderings bygewoon nie. Hy het Woensdag aangekondig dat hy nie saam met opposisiepartye sal werk om 'n koalisieregering te vorm nie.
"Die nasie moet besluit," het hy op televisie aangekondig. "Ek het besluit om op 20 Maart 'n parlementêre verkiesing te hou."
Volgens Rajoelina sal verkiesings plaasvind vir 'n nuwe leier sowel as 'n nuwe grondwet.
Sy toespraak het egter niks oor 'n presidensiële verkiesing - die hoofdoel van die internasionale bemiddelaarspan tans in die land - genoem nie.
Rajoelina, die voormalige burgemeester van Antananarivo, het in Maart met behulp van die weermag leierskap van Madagaskar oorgevat ná pres. Marc Ravalomanana uit sy amp verwyder is.
- Sapa-AFP