Maatskappy stuur tegnici na China-vliegramp
2010-08-25 06:00
Brasilia - Die Brasiliaanse vliegtuigvervaardiger Embraer het Dinsdag gesê hy het tegnici gestuur om met die ondersoek te help ná 'n Embraer 190-passasiersvliegtuig in noordoostelike China neergestort het.
Minstens 42 mense is dood.
"Embraer het 'n span tegnici na die ongelukstoneel gestuur om ondersteuning te verleen aan Chinese lugvaartowerhede wat die ongeluk ondersoek," het die maatskappy in 'n verklaring gesê.
91 passasiers, waaronder vyf kinders en vyf bemanningslede, was aan boord die vliegtuig toe dit die aanloopbaan by die Lindu-lughawe gemis en in vlamme uitgebars het.
"Embraer betuig sy diepste medelye en wense van spoedige herstel aan die families en vriende van die mense wat hul lewens verloor het of beseer is," het die maatskappy gesê.
- AFP