Maatskappy onttrek vleisprodukte ná sterftes
2012-07-19 08:45
Wellington – 'n Voedselmaatskappy in Nieu-Seeland het sy vooraf verpakte vleisprodukte van rakke onttrek ná 'n listeria-uitbreking by 'n plaaslike hospitaal.
Toetse het getoon dat dié maatskappy se vleis dalk met die uitbreking verbind kan word.
Die bakteriële infeksie is sedert 9 Mei by vier pasiënte, wat in die Hawke's Bay-hospitaal behandel is, gediagnoseer, het Anna Kirk, woordvoerder, gesê.
Kirk het gesê listeria was vermoedelik die oorsaak van die dood van 'n vrou en 'n bydraende faktor in die dood van nóg 'n vrou. Sy het het gesê die een vrou is in haar 80's en die ander vrou in haar 60's en hul immuunstelsels was swak.
Die ander twee mense wat die infeksie opgedoen het, het intussen herstel.
Bay Cuisine, 'n maatskappy in Hawke's Bay wat kos aan die hospitaal verskaf, het vrywilliglik sy salami-, pepperoni- en hamprodukte van die rakke onttrek, het die ministerie van primêre nywerhede gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP