Ma veroorsaak kinders se dood
2009-10-16 05:38
Hong Kong – ‘n Broer en suster wat na bewering deur hul ma vermoor is, het slegs twee ure nadat die polisie by hul huis was gesterf, het ‘n nadoodse ondersoek Vrydag getoon.
Die twee kinders, 13 en 12, is Woensdagmiddag dood aangetref nadat hul 38-jarige ma die polisie gebel en aan hulle gesê het dat die kinders bewusteloos is nadat sy vir hulle lemoensap met slaappille gegee het en houtskool in die woonstel gebrand het.
Brandweermanne en polisie amptenare het net 13 ure vroeër ‘n draai by die woonstel gemaak nadat ‘n buurman rook wat by die woonstel uitgekom het gerapporteer het.
Die amptenare het niks onvanpas vermoed nie.
Die resultate van die nadoodse-ondersoek het getoon dat die kinders gesterf het van die koolstof-monoksied wat hulle ingeasem het, slegs twee ure nadat die polisie hul eerste besoek afgelê het.
Lee Fung-yee, die kinders se ma, het glo die houtskool aan die brand gesteek nadat sy met haar getroude minnaar, die pa van die kinders, baklei het.
Volgens polisie het Lee hulle op hul eerste besoek toegang geweier en gesê dat sy wierook brand en dat sy nie wil hê hulle moet die kinders pla terwyl hulle slaap nie.
Toe die amptenare 13 ure later, na haar telefoon-oproep, by die woonstel ingebreek het, was Lee gedeeltelik by, maar die kinders was reeds dood.
Sy herstel nog in die hospitaal, maar is nie aangekla nie.
Die voorval is die nuutste in ‘n reeks familie-tragedies in die stad van sewe miljoen mense.
Daar was hierdie jaar sover agt sterftes waarin vyf families betrokke was.
Welsynsorganisasies en ondersteuningsgroepe blameer die gaping tussen ryk en arm wat vergroot, die hoë stres-vlakke van families wat met die moeilike ekonomiese tye sukkel en ‘n tekort aan ondersteuning in die gemeenskap.
- Sapa-dpa