Ma verdrink drie kinders, los een
2011-04-13 10:24
Newburgh – ‘n Vrou en drie van haar jong kinders is dood nadat sy ‘n voertuig by die Hudson-rivier in New York ingery het, het brandbestryders gesê.
Die vrou het Dinsdagaand haar vier kinders in ‘n voertuig gelaai nadat sy ‘n argument by die huis gehad het.
Sy het een van die kinders by die motor uitgelaat voordat sy die voertuig by die rivier ingery het.
Die vrou en ander drie jong kinders is dood.
Die tienjarige seun wat by die motor uitgelaat is, het na ‘n brandweerstasie gehardloop en brandbestryders van die voorval in kennis gestel, het die hoof van die brandweerdiens, Michael Vatter, gesê.
Die seun het aan brandbestryders gesê dat sy ma by die Hudson-rivier, sowat 100 km noord van die stad New York, ingery het, het Vatter gesê. ‘n Gedeelte van dié rivier loop tussen New York en New Jersey.
Brandbestryders en polisiebeamptes is na die rivier ontbied. Duikers het omtrent ‘n uur lank na die voertuig gesoek voordat hulle dit in die water gevind het. Die voertuig was 3 m onder water.
Volgens Vatter is al die insittendes dood.
Die rusie by die huis het sowat 10 minute voordat die vrou by die rivier ingery het, gebeur, het Vatter gesê.
Vatter sê hulle het geen verdere inligting oor die rusie nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP