Ma vasgebind tydens geboorte
2009-11-30 11:58
Sydney – Die Bangladesjiese vrou wie se Siamese tweeling onlangs tydens ‘n 25 uur operasie van mekaar geskei is, het aan ‘n tydskrif vertel onder watter vreemde omstandighede sy geboorte geskenk het.
Volgens Lovely Mallick was haar oë toegebind en haar hande vasgebind toe sy geboorte geskenk het aan Trishna en Krishna.
Hierdie is nie gewone praktyk in hospitale in Bangladesj nie. “Ek wou my hande beweeg, toe besef ek dat ek vasgebind is,” het sy gesê.
Volgens Mallick het sy in ongeloof gehuil nadat sy geboorte geskenk het aan haar twee dogters. “Ek was omtrent dood van die skok toe ek hulle later gesien het,” het sy aan die Woman’s Day-tydskrif vertel.
“Ek was so omgekrap om hulle in so ‘n toestand te sien,” het die 22-jarige ma vertel.
“Die dokter het hulle van my weggevat. Ek het soos ‘n mal persoon geskree.”
Die tweeling is in Desember 2006 gebore en sowat ses weke later in kinderhuis geplaas in Dhaka met die hoop dat iemand hulle sal aanneem en help.
In 2007 het ‘n werker die tweeling, wat toe ‘n maand oud was, in ‘n weeshuis gesien en die Children First Foundation gekontak, wat toe die kinders na Australië gebring het sodat hulle die operasie kon ondergaan.
Ná ‘n delikate operasie wat 25 uur geduur het, is die twee suksesvol van mekaar geskei.
“Ek is bly dit gaan goed met my dogters. Ek sal hulle graag wil sien, al is dit net vir ‘n minuut. Maar hulle moet in Australië bly, daar sal dit goed gaan met hulle.”
–Sapa, AFP