Ma van 7 word ma van 11
2009-10-12 10:25
Sydney - ‘n Australiese vrou, wat al twee keer aan ‘n vierling geboorte gegee het, het haar kroos met nog ‘n tweeling verryk.
Dale Chalk (31) en haar man, Darren, is nou die trotse ouers van 11 kinders, almal onder die ouderdom van sewe jaar.
“Ons sou graag nog kinders wou hê, maar medies gesproke is dit nou verby,” het Darren aan die media gesê.
“Ons sou in elk geval ‘n groter bus moes koop!”
Dale het in 2005 met haar tweede vierling swanger geraak.
In Oktober van daardie jaar het sy geboorte gegee, maar slegs drie van die vier babas het oorleef.
Die eerste vierling (twee seuns en twee meisies) is in 2004 gebore en behoort volgende jaar met skool te begin.
Verder het hulle ook ‘n sesjarige dogtertjie en ‘n baba-dogtertjie, wat in 2007 gebore is.
Die paartjie het blykbaar ligte onvrugbaarheidsbehandeling ondergaan.
- Sapa