Ma met Siamese tweeling herenig ná operasie
2010-07-22 16:11
Melbourne - ‘n Vrou van Bangladesj wie se kinders in ‘n marathon-operasie in Melbourne geskei is, het hulle vir die eerste keer afsonderlik vasgehou, het die kinders se voog Donderdag gesê.
Trishna en Krishna, wat gebore is met hulle skedels en breine aanmekaargeheg, is verlede Desember in ‘n ingewikkelde operasie van 32 uur geskei nadat hulle deur Australiese hulpwerkers uit ‘n weeshuis in Dhaka gered is.
Hulle ongelooflike oorlewing ná die gevaarlike operasie is as ‘n wonderwerk oor die wêreld gesien.
Hul ma, Lovely Goldar, het die twee kort na hul geboorte aan die weeshuis gegee in die hoop dat hulle mediese sorg sal ontvang.
Die 24-jarige Goldar is uiteindelik met haar driejarige dogters in Melbourne herenig, het Moira Kelly, hulle Australiese voog, Donderdag gesê.
“Die laaste keer wat sy haar kinders gesien het was ‘n vreeslike tyd, so dit is baie belangrik om nou ‘n spesiale herinnering vir haar te skep, want dit is iets wat in haar hart en geheue ingeplant gaan word,” het Kelly gesê.
Die meisies sal in Australië bly tot hulle ouer en gesonder is.
Kelly het gesê dat dit vir haar wonderlik sal wees as hulle eendag na Bangladesj kan terugkeer en sy wil hê Goldar moet deel bly van hul lewens.
“Ons sal wil hê Lovely moet ‘n deel wees van die meisies se lewens, sien hoe hulle grootword en mylpale bereik,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP