Ma, kinders sterf in Londense huisbrand
2011-09-24 18:33
Londen – ‘n Ma en vyf van haar kinders het gesterf nadat ‘n brand in hul huis in Brittanje ontstaan het, het nooddienste gesê.
Daar word berig dat die brand Saterdagoggend omstreeks 01:00 in 'n huis in die Neasden-distrik, in die noordwestelike deel van Londen, uitgebreek het.
Dit het 30 brandbestryders omtrent twee ure geneem om die vlamme onder beheer te bring.
Die polisie sê ‘n 41-jarige vrou en vyf kinders is dood. Die kinders was onderskeidelik twee, vyf, nege, 13 en 14 jaar oud.
Volgens die polisie het ‘n 51-jarige man en ‘n 16-jarige meisie ontsnap. Hulle het brandwonde opgedoen en word tans in ‘n hospitaal behandel.
Polisiebeamptes en brandweerdienste sê die voorval sal ondersoek word. In die stadium is dit “onverklaarbaar.”
Glen Gorman van die Londense brandweer sê die voorval is ‘n “absolute tragedie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP