Ma in sop ná sy kinders op eBay adverteer
2011-07-17 16:01
Sydney – 'n Australiese ma wat haar kinders op die internet geadverteer het, se grap het lelik skeefgeloop toe owerhede aan haar deur kom klop, het die polisie Sondag gesê.
Beamptes in die suidelike stad Geelong is verlede week in kennis gestel van 'n vrou wat haar kinders, 'n seun en 'n dogter onder 10, op die aanlyn-veilingblad eBay wil verkoop.
Foto's van die kinders is by die advertensie ingesluit.
"Die polisie het die vrou opgespoor. Sy het gesê dit is 'n grap," het die polisie in 'n verklaring gesê.
Geen aanklagte is teen die vrou aanhangig gemaak nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP