Ma gooi glo kleuter by venster op tweede verdieping uit
2011-12-29 18:35
San Jose – 'n Ma van San Jose in Kalifornië wat daarvan beskuldig word dat sy op Kersdag haar kleuter, 'n seun, by 'n venster op die tweede verdieping van 'n woonstelgebou uitgegooi het, sal teregstaan op aanklagte van kindermishandeling.
Aanklaers van die Santa Clara-distrik sê hulle het besluit om die 24-jarige Lupita Cortez nie van poging tot moord aan te kla nie, omdat dit van hulle sou vereis om te bewys dat sy wel bedoel het om die kind te vermoor. Die bewyse dui nie daarop nie, het hulle gesê.
Die San Jose Mercury News het berig dat Cortez enkele dae vroeër met erge depressie in 'n hospitaal opgeneem is.
Die 22 maande oue seun het die val oorleef met kneusplekke en skrape. Owerhede sê Cortez word behandel vir gebreekte bene ná sy uit dieselfde venster gespring het toe polisiebeamptes op die toneel aangekom het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP