Ma betaal vir seun se moord
2011-08-03 19:30
Moskou – ‘n Russiese vrou het ‘n huurmoordenaar betaal om
haar 21-jarige seun dood te maak omdat hy geweier het om ‘n lening vir ‘n nuwe
rekenaar aan haar terug te betaal.
Die Moskouse vrou (47) en haar seun het gekibbel nadat hy ‘n
lening in haar naam uitgeneem het om ‘n skootrekenaar te koop en haar nooit daarvoor
terugbetaal het nie, het die Russiese ondersoekende komitee Woensdag in ‘n verklaring
gesê.
Sy het ‘n kennis genader en hom meer as R115 000 aangebied
om haar seun dood te maak. Hy het haar aanbod in die geheim by die polisie aangemeld
en die vrou is in hegtenis geneem toe sy die laaste paaiement aan hom oorhandig
het.
Sy het nog ‘n lening uitgeneem om die huurmoordenaar te
betaal, het ondersoekbeamptes bevestig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP