Lyk van soldaat in rivier gevind
2009-11-30 16:35
Afganistan - Militêre duikers het Sondag die lyk van ‘n tweede Amerikaanse soldaat gevind, sowat ‘n maand nadat hy in Afganistan vermis geraak het, het Afgaanse en Nato-beamptes Maandag gesê.
Die soldaat het saam ‘n ander Amerikaanse soldaat in ‘n rivier in die Badghis-provinsie in suidwestelike Afganistan verdrink, het Sayed Ahmad Sameh, die provinsiale polisiehoof, aan AFP gesê.
Die ander soldaat is op 11 November dood aangetref.
“Die liggaam van die Amerikaanse soldaat wat vermis geraak het, is gister opgespoor.
"Sy liggaam was onder ‘n rots in die Bala Murghab-rivier vasgepen,” het Sameh gesê.
Die twee valskermsoldate het vroeër die maand vermis geraak terwyl hulle 'n lugvrag uit die rivier probeer red het.
Volgens Sameh is sy lyk “myle verder” gevind van waar hy verdrink het.
“Die stroom het sy liggaam verder weg na ‘n ander dorp gedra,” het Sameh bygevoeg.
Nato-beamptes het vroeër berig die twee mans het vermis geraak nadat hulle deur rebelle aangeval is, terwyl hulle na die voorrade gesoek het.
Sewe Afgaanse soldate en polisie is gedood in wat Afgaanse beamptes ‘n foutiewe Nato-lugaanval noem in die soeke na die vermiste valskermsoldate.
Meer as 100 000 troepe onder Nato- en Amerikaanse bevel is in Afganistan om teen die Taliban se dodelikste oproerigheid in agt jaar te beveg.
- Sapa-AFP