Luiperd dood man in Indiese stad
2012-01-09 11:03
Gauhati – ‘n Luiperd wat in ‘n stad in die ooste van Indië rondgedwaal het, het een man doodgemaak, ‘n gedeelte van ‘n ander man se kopvel afgeruk en drie ander mense beseer voor owerhede die dier ‘n kalmeermiddel kon ingee.
‘n Prokureur wat Sondagaand op sy selfoon buite sy huis gepraat het, is deur die luiperd aangeval, het sy bure gesê. Hy is na ‘n hospitaal gehaas maar het aan sy wonde beswyk.
Vier ander mense is beseer. ‘n Gedeelte van ‘n man se kopvel is afgeruk in ‘n dramatiese episode wat deur ‘n plaaslike fotojoernalis afgeneem is.
Utpal Bora, ‘n beampte van Gauhati Wildlife, het gesê dat owerhede beplan om die dier by ‘n wildreservaat sowat 200 km wes van die stad af vry te laat.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP