Lugredery met hande in hare toe vlieëniers groet
2010-07-31 08:38
Manila, Filippyne - Die Filippyne se nasionale lugredery, Philippine Airlines (PAL), moes Saterdag ten minste vyf vlugte kanselleer ná 'n paar van sy Airbus A320-vlieëniers in ander dele van die wêreld betrekkings aanvaar het.
Ongeveer 10 persent van die Filippyne se bevolking van 94 miljoen werk reeds in ander lande.
Jonathan Gesmundo, 'n woordvoerder vir die lugredery, het in spesiale televisie- en radio-uitsendings vir die publiek om verskoning gevra vir die kansellasies, wat volgens hom veroorsaak is deur die skielike bedanking van 'n hele paar vlieëniers wat beter salarisse elders aangebied is.
Die vlieëniers het glo nie die bestuur van die lugredery in kennis gestel van hulle besluit nie.
"Die laaste paar dae daag vlieëniers nie op om diens te doen nie. Dit veroorsaak probleme vir ons," het Gesmundo gesê.
Volgens PAL sal daar regstappe geneem word teen die vlieëniers, omdat baie van hulle nog aan die lugredery geld skuld vir hul opleiding.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP