Lughawe-staking in Frankfurt kom tot einde
2012-02-22 18:50
Frankfurt – ‘n Staking by Frankfurt se lughawe wat tot die kansellasie van honderde vlugte gelei het, sal vir eers tot ‘n einde kom te midde nuwe gesprekke wat daarop gemik is om ‘n dispuut oor salarisse te beëindig, het ‘n vakbond Woensdag gesê.
Die staking by Europa se derde besigste lughawe “sal met die begin van die nagskof” Woensdag tot ‘n einde kom, het Matthias Maas, ‘n woordvoerder vir die GdF-vakbond, gesê.
Nietemin bied dit nie onmiddellike verligting aan passasiers nie, met meer as 174 vlugte wat Woensdag gekanselleer is. Werkers sou na verwagting om 21:00 (20:00 GMT) terugkeer werk toe.
Maas sê onderhandelings kan so vroeg as Donderdag begin. Die vakbond het beplan om tot Vrydag voort te gaan met die staking deur 200 werkers om aan te dring op groter salarisse deur die lughawe-operateur Fraport AG.
Robert Payne, woordvoerder van Fraport, sê die vakbond “het positief gereageer op ons aanbod om terug te keer na die onderhandelingstafel”, maar kon nie sê wanneer gesprekke weer hervat sal word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP