Lughawe-staking in Frankfurt duur voort
2012-02-22 09:04
Frankfurt – Stakings op die Frankfurt-lughawe, die grootste lughawe in Duitsland, sal waarskynlik tot Vrydag voortduur.
Sowat 200 werkers op die laaiblad van die aanloopbaan, onder wie dié wat vliegtuie na hul parkeerplek begelei, staak sedert Donderdag oor ’n loondispuut met Fraport, wat die lughawe bestuur.
Duitsland se grootste lugdiens, Lufthansa, het honderde vlugte per dag gekanselleer.
Die eerste twee dae van die staking het die lughawe tussen €3,5 miljoen (sowat R35 miljoen) en €4 miljoen (sowat R40 miljoen) aan verlore inkomste gekos.
Sowat 1 300 vlugte land gewoonlik op Frankfurt, Europa se derde grootste lughawe volgens die aantal passasiers.
Dié lughawe behartig tans sowat 70% tot 80% van die daaglikse vlugte met die hulp van personeel van ander bedryfsafdelings.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters