Lugballon-tragedie: Slagoffers van Brittanje, Hongkong
2013-02-26 13:22
Fotogalery - Lugballon-tragedie in Egipte
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Hongkong – Altesaam nege mense van Hongkong is onder die 19 toeriste wat dood is toe ‘n lugballon Dinsdag in Luxor in Egipte ontplof het, het ‘n toeroperateur gesê.
Twee Japannese toeriste is ook onder die slagoffers. Die reisagentskap Thomas Cook het ook gesê twee Britte tel onder die slagoffers.
“Daar is ‘n sterk moontlikheid dat nege van ons kliënte dood is,” het Raymond Ng, hoofbestuurder van die reisagentskap Kuoni, wat die Hongkongers se toer georganiseer het, gesê.
Die vyf vroue en vier mans was tussen 33 en 62 jaar oud, het Ng tydens ‘n mediakonferensie gesê.
Hul families sal later Dinsdag na Kaïro vlieg en hulle sal vergesel word deur drie werknemers van Kuoni, het hy bygevoeg.
Die nege was deel van ‘n groep van 15 Hongkongers wat op 22 Februarie in Egipte aangekom het.
Volgens plaaslike beamptes het die lugballon sowat ‘n uur nadat dit opgestyg het, aan die brand geslaan. Dit het twee minute later neergestort.
Volgens Ng het Kuoni ‘n goeie werksverhouding met die operateur van die lugballon gehad en hulle werk glo al verskeie jare saam. Hy het bygevoeg dat hy geen amptelike bevestiging van die sterftes van Egiptiese beamptes ontvang het nie.
In Japan het die toermaatskappy JTB gesê vier Japannese toeriste was betrokke in die ongeluk en twee se dood is bevestig.
‘n Woordvoerder vir Japan se ministerie van buitelandse sake het gesê die regering wag nog vir verdere bevestiging.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP