Lugaanvalle naby Siriese hospitaal eis 15
2012-11-22 13:59
Beiroet – Minstens 15 mense is dood toe Siriese vegvliegtuie ‘n gebou langs ‘n hospitaal in die stad Aleppo aangeval het, het aktiviste Donderdag gesê.
Die hospitaal, een van die laaste oorblywende bronne van mediese hulp aan burgerlikes in Aleppo, is ook in die aanval beskadig.
Rami Abdul Rahman, hoof van die Siriese Waarnemers vir Menseregte, het gesê 11 rebelle is in die aanval dood.
‘n Dokter, ‘n jong meisie en nog twee kinders is ook dood.
‘n Ander aktivistegroep het die aanvalle bevestig.
Die groep het bygevoeg dat sowat 40 mense Woensdag in Aleppo dood is as gevolg van lugaanvalle.
Die Siriese Waarnemers vir Menseregte het bygevoeg dat meer as 40 000 mense in Sirië doodgemaak is sedert die begin van die opstande in Maart verlede jaar.
“Minstens 28 026 burgerlikes, 1 379 oorlopers, 10,150 soldate en 574 ongeïdentifiseerde mense is die afgelope 20 maande in Sirië doodgemaak," het die organisasie in 'n verklaring gesê.
Die syfers sluit nie mense in wat tans vermis word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP