Lid van dwelmbende wys massagrafte uit
2012-02-09 16:04
Veracruz – ‘n Vermeende lid van Mexiko se gevreesde Zetas-dwelmbende het amptenare na twee grafte in die oostelike staat Veracruz gelei waarin 15 lyke begrawe was, het die Mexikaanse vloot gesê.
Die verdagte, wat van verskeie ontvoerings beskuldig word, is in Acayucan afgetrek nadat hy geweier het om by ‘n padblokkade te stop, het ‘n verklaring gesê.
Hy het amptenare gevolglik na die versteekte grafte op twee plase in die geweldgeteisterde Veracruz gelei.
Tien lyke is oorspronklik uit die grond gehaal en die getal is laat Woensdag na 15 verander.
Mexikaanse amptenare het in onlangse jare honderde lyke in versteekte grafte gevind as deel van die golf van dwelmaangedrewe geweld in die land.
Veracruz het ‘n toename in geweld ervaar in die afgelope jaar wat op die wrede Zetas-dwelmbende en sy teenstanders, insluitende die Sinaloa-kartel, blameer word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP