Lelike verrassing toe bruid sluier lig
2010-02-10 14:22
Doebai – ‘n Arabiese ambassadeur het sy troue gekanselleer nadat hy uitgevind het dat sy toekomstige vrou, wat altyd ‘n gesigsluier gedra het tydens hulle ontmoetings, gesighare het en skeel is.
Die ambassadeur het die vrou net ‘n paar keer ontmoet, en sy het elke keer haar gesig agter ‘n sluier weggesteek, het ‘n koerant berig.
Nadat hul huwelikskontrak geteken was, het die ambassadeur probeer om sy vrou te soen. Dis toe dat hy uitgevind het dat sy gesighare het en boonop ook skeel is.
Hy het toe aan die Islamietiese Sharia-hof vertel dat hy nie met die vrou getroud kan wees nie. Die bruid se ma het glo haar susters se foto's aan die toekomstige bruidegom gewys.
Hy het ‘n dagvaarding uitgereik dat die huwelikskontrak nietig verklaar moet word, en dat die vrou aan hom ongeveer R1 miljoen moet betaal vir die klere, juweliersware en ander geskenke wat hy aan haar gekoop het.
Die hof het die kontrak nietig verklaar maar die ambassadeur se aansoek vir skadevergoeding is verwerp.
Die verslag het nie die ambassadeur se naam bekend gemaak nie, en ook nie verdere besonderhede verskaf nie.
- Sapa-AFP