Leiers van die "Rooi Hemde" ontsnap uit hotel
2010-04-16 09:58
Bangkok – Thaise sekuriteitsmagte het ‘n hotel waar leiers van die “Rooi Hemde” geskuil het omsingel, maar die leiers het ontsnap en niemand is in hegtenis geneem nie.
Van die leiers het met ‘n tou uit die SC Park Hotel ontsnap terwyl hul volgelinge buite saamgedrom het.
Die hotel behoort blykbaar aan Thaksin Shinawatra, Thailand se voormalige eerste minister.
Adjunk-premier Suthep Thaugsuban het aangekondig dat spesiale magte die hotel, “waar terroriste wegkruip”, omsingel het.
Die leiers van die “Rooi Hemde” het egter almal daarin geslaag om uit die hotel te ontsnap.
‘n Woordvoerder van die regering het erken dat die sending “onsuksesvol” was.
Bestaande beeldmateriaal wys hoe een van die leiers, Arisman Pongruangrong, met ‘n tou uit die hotel ontsnap en deur talle ondersteuners afgehelp word.
Arisman voer aan dat die polisie hom vroeër die maand probeer doodmaak het.
“Die polisieman het my probeer vermoor,” het hy oor ‘n luidspreker aan die betogers gesê.
Die “Rooi Hemde” is van mening dat die huidige regering onwettig is aangesien dit in 2008 aan bewind gekom het ná Thaksin se bondgenote uit hul posisies ontslaan is.
– Sapa