Leier van menseregtegroep ontvoer
2009-08-10 20:48
Grozny, Rusland – Gewapende mans het Maandag die leier van ‘n menseregte groep en haar man in die Russiese republiek van Chechnya ontvoer, het lede van twee ander groepe gesê.
“Ongeveer twee-uur vandag het ongeïdentifiseerde gewapende mans uitgeklim by die kantore van ‘Let’s save the Generation’ en hul leier, Zarema Sadulayeva en haar man ontvoer,” het Alexander Cherkasov van die Memorial nuusagentskap berig.
“Die mans het hulle na ‘n onbekende bestemming geneem. Hulle het teruggekom na die NRO se kantoor en die man se selfoon en sy motor geneem,” het hy bygevoeg.
Daar is geen inligting oor waar hulle is nie.
Een van Memorial se eie aktiviste, Natalya Estemirova is in Julie ontvoer en vermoor en die saak het internasionaal groot opspraak gemaak.
‘n Ander senior regte werker en voormalige kollega van Sadulayeva het vroeër gesê dat “’n bende het die middag in haar kantoor ingekom terwyl sy gewerk het en haar in ‘n motor ingedwing.”
Sadulayeva se man, Alik Djibralov, was vir vier jaar in die tronk nadat hy verbind was aan onwettige wapengroepe en het twee maande nadat hy uit die tronk is met Sadulayeva getrou.
'Let's Save the Generation' werk met jong mense wat gemarginaliseer is en help hulle om weer op hulle eie voete te kom en om te voorkom dat hulle by die militaristiese groepe in die onstabiele omgewing aansluit.
- AFP