Leier van Los Zetas-dwelmkartel 'dalk dood'
2012-10-09 09:25
Mexiko – Die leier van die Los Zetas-dwelmkartel, Heriberto Lazcano, is glo tydens 'n skietgeveg in die noorde van Mexiko dood, het die land se vloot gesê.
Volgens die vloot wag hulle nog op die finale forensiese uitslae, maar die oorskot lyk soos dié van "El Lazca".
Lazcano, ook bekend as "The Executioner", is 'n stigter van die berugte kartel wat al in 'n reeks massamoorde en ontvoerings geïmpliseer is.
Sy dood sal 'n oorwinning in die stryd teen kartelle wees, het kenners gesê.
Twee vermeende bendelede is Sondag dood in 'n skietgeveg met die vloot in die Coahuila-staat, en daar is "sterk bewyse" dat een van die lyke Lazcano was, het die vloot bygevoeg.
Die vloot het Maandag gesê hulle het die vermeemde streeksleier van die Zetas, Salvador Alfonso Martinez Escobedo, in hegtenis geneem wat in 2010 agter die moorde van 72 migrante in die noordelike Tamaulipas-staat was.
Ivan Velazquez Caballero, ook bekend as El Taliban, 'n topkommandeur van die Zetas, is ook onlangs aangekeer.
– BBC.
– Volg Nuus24 op Twitter.