Laaste landmyne in Nepal verwyder
2011-06-14 22:30
Kaapstad - Nepal se laaste oorblywende landmynveld is Dinsdag byna vyf jaar ná die einde van 'n dekade lange burgeroorlog, skoongemaak.
Die Nepalese weermag het gedurende die oorlog landmyne in 53 plekke dwarsoor die land maar meestal naby militêre fasiliteite, hidro-elektriese kragstasies en telekommunikasie torings gelê.
"Om hierdie landmyne te verwyder is 'n belangrike deel van die vredesproses," het die land se premier Jhalanath Khanal gesê tydens Dinsdag se seremonie waar die landmynveld deur middel van 'n beheerde ontploffing opgeruim is.
Volgens die Verenigde Nasies is 78 mense gedood en 395 mense deur landmyne beseer sedert 'n vredesverdrag in Nepal onderteken is.
Die meeste van die slagoffers was kinders.
Nepal is naas China slegs die tweede land in Asië wat nou sonder landmyne is.
Khanal het gesê sy land sal binnekort die internasionale Ottawa-verdrag onderteken wat landmyne verban.
Volg die Nuus24 op Twitter.
- SAPA