Kulkunstenaar brand op TV-program
2012-12-03 07:00
Santo Domingo, Dominikaanse Republiek – 'n Amerikaanse kulkunstenaar sterk aan in 'n hospitaal in die Dominikaanse Republiek nadat 'n plaaslike TV-aanbieder sy kop met 'n vlambare middel aan die brand gesteek het.
Chico van Kalifornië, wie se regte naam Wayne Houchin is, het gesê hy word behandel vir brandwonde wat dokters meen nie littekens gaan veroorsaak nie.
Luidens 'n verklaring op sy Facebook-blad "rus en sterk hy aan en werk deur die regsproses" in die Karibbiese nasie, waar hy en 'n groep ander kulkunstenaars opgetree het.
Chico het op 26 November op die TV-program Closer To The Stars verskyn toe die gasaanbieder Franklin Barazarte die vlambare middel Agua de Florida, wat in rituele gebruik word, op sy kop uitgegooi het. 'n Video van die voorval wys hoe Barazarte sy hande oor Houchin se brandende hare vryf.
Dit is nie bekend hoekom die TV-aanbieder die middel op sy kop uitgegooi het en wat die brand veroorsaak het nie. Die program het nie kommentaar gelewer oor die voorval nie.
Die video wys ook hoe Houchin, Barazarte en verskeie ander mense probeer om die vlamme te blus. Die voorval is nie op TV uitgesaai nie, maar 'n video daarvan het op die internet verskyn.
Houchin het gesê Barazarte se gedrag was heeltemal onverwags en dat hy dit as 'n kriminele aanval beskou.
Dit is nie bekend of hy 'n prokureur in die Dominikaanse Republiek aangestel het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP