Kuberkrakers val WikiLeaks aan
2011-08-31 17:29
Washington – WikiLeaks.org, wat in die proses is om duisende Amerikaanse diplomatieke dokumente bekend te maak, is Dinsdagmiddag deur kuberkrakers aangeval.
“WikiLeaks word tans aangeval,” het ‘n boodskap op WikiLeaks se Twitter-blad, wat glo deur Julian Assange, die opspraakwekkende Australies-gebore stigter en hoof van die fluitjieblaser-organisasie beheer word, gelees.
WikiLeaks het later die probleem as “’n kuberaanval” wat moontlik verbind kan word met sy onlangse besluit om duisende Amerikaanse regeringsdokumente bekend te maak, beskryf.
In ‘n daaropvolgende boodskap op sy Twitter-blad het die organisasie te kenne gegee dat sy webtuiste weer aan die gang is, hoewel sommige gebruikers steeds probleme met toegang tot die webwerf ervaar het.
"WikiLeaks.org terug," het die organisasie getweet. "Goeie probeerslag."
Die organisasie het onlangs aangekondig dat ‘n lêer met meer as 250 000 dokumente wat van die Amerikaanse departement van buitelandse sake gelek is, bekend gemaak sal word. WikiLeaks maak dié dokumente reeds sedert verlede jaar in sarsies bekend.
Verskeie nuusorganisasies is ook al vir maande reeds in besit van die volle stel dokumente.
‘n Bron na aan Assange het gesê WikiLeaks-aktiviste se frustrasie met die media se onwilligheid om meer van dié dokumente gebruik te maak, was die rede agter die besluit om alles op een slag uit te reik.
- Reuters