Kragtige naskokke ruk Solomon-eilande
2013-02-10 08:33
Honiara – Kragtige naskokke het die Solomon-eilande Sondag geruk, vier dae nadat ‘n aardbewing wat 8.0 gemeet het ‘n tsoenami veroorsaak het.
Hulpagentskappe sukkel nou om ‘n duidelike prentjie van die skade te kry.
Die bevestigde dodetal het na 10 gestyg nadat die lyk van ‘n kind in ‘n sloot in die afgeleë Santa Cruz-eilande gevind is.
Meer as 3 000 mense woon nou in tydelike kampe nadat hul huise vernietig is.
Twee bote wat noodsaaklike voorraad van medisyne, kos, water en tente vervoer het in Lata, die hoof dorp van die eiland-groep, opgedaag, maar die broos kommunikasiestelsel beteken verdere verskepings word vir eers opgehou.
Beamptes in die hoofstad Honiara sê hulle kon nie ‘n volledige assessering van die situasie doen nie.
Op die oomblik weet ons nie of ons nog op die verligtingstadium is en of ons na die herstelfase beweeg het nie, het Joanne Zoleveke, sekretaris-generaal van die Rooi Kruis, gesê.
“Ons weet nie of die voorraad wat ons ingestuur het genoeg is en of nog nodig is en ons nog bote moet huur nie. Ons kan nie daardie besluite maak totdat ons assesseringsverslae van Lata ontvang nie en kommunikasie word nog onderbreek.”
‘n Aardbewing wat 6.5 gemeet het, het Sondagoggend 29 km suid-suidwes van Lata op ‘n diepte van 18 km plaasgevind. Dit volg ná ‘n skudding van 7.0 Vrydagaand.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP