Koran-dreigemente: ‘skade is gedoen’
2010-09-15 04:17
Washington - Die bevelvoerder van NATO-troepe in Afganistan het Dinsdag gesê ‘n pastoor van Florida se dreigemente om kopieë van die Koran te verbrand, het skade aan Amerika se belange in die land aangerig, al het die pastoor nie sy plan deurgevoer nie.
In ‘n onderhoud met ABC-nuus het genl. David Petraeus sy misnoeë uitgespreek oor die effekte van die wyd-gepubliseerde dreigement van die Dove World Outreach evangeliese kerk om honderde kopieë van die Koran te verbrand om die 11 September-aanvalle van 2001 te herdenk.
“Daar is ‘n mate van skade aangerig,” het Petraeus gesê.
“Julle het dit gesien. Julle het dit gesien en julle het gehoor van die betogings hier in Afganistan – daar is reeds ‘n beeld ingeëts in die mense se gedagtes, al is dit nie foto’s van iets so opruiend soos om ‘n Koran te verbrand nie.”
Die generaal het verlede week met mening uitgevaar teen die pastoor se planne en gewaarsku dat die verbranding van Korans koalisie-troepe in Afganistan se pogings in die wiele kan ry.
Die kerk se pastoor, Terry Jones, het van sy plan afgesien nadat pleidooie ontvang is van die Amerikaanse president, Barack Obama, die Vatikaan en ander wêreldleiers.
Maar die blote dreigement om die heilige boek van Moslems te verbrand het betogings oor die wêreld heen ontketen. Dit sluit Afganistan, waar twee betogers Sondag dood is toe Afgaanse magte ‘n menigte betogers uitmekaar probeer dryf het, in.
- Sapa - AFP