Koplose lyk langs rivier gevind
2010-05-11 11:00
Moembaai – Drie skoolseuns is op aanklag van moord in hegtenis geneem ná die koplose lyk van een van hul klasmaats gevind is.
‘n Groep kinders was oppad om in 'n oop stuk veld langs 'n rivier in die stad van Pune krieket te speel toe hulle op die onthoofde lyk van Abhishek Ghorpade (15) afgekom het.
Die laaste keer wat Abhishek se ouers hom lewend gesien het, was verlede Woensdag.
Hy was oppad na 'n vriend se verjaarsdagpartytjie en het hulle gewaarsku dat hy eers laat sal huis toe kom.
Sy lyk was aan ‘n boom vasgebind, maar sy kop was nêrens te vinde nie.
Ghorpade se kop is klaarblyklik met ‘n sekel afgekap.
Na bewering was die drie beskuldigdes en die slagoffer vroeër in ‘n bakleiery betrokke.
Die oudste van die drie beskuldigdes het die polisie na die moordtoneel langs die rivier gelei en meegedeel dat hulle sy kop in die rivier gegooi het.
– Sapa
Volg Nuus24 op Twitter