Koningin waarsku teen foto’s
2009-12-07 02:25
Londen – Brittanje se Koningin Elizabeth het koerante daarteen gewaarsku om die paparazzi se foto’s van lede van die koninklike familie te publiseer, as gevolg van frustrasie oor hul veiligheid.
Die koningin se regsverteenwoordigers het Britse koerante gekontak en hulle in kennis gestel van hul pligte om die privaatheid van die familie te beskerm.
"Lede van die koninklike familie meen hulle het die reg tot hul privaatheid wanneer hulle hul allerdaagse lewens leef en private dinge doen. Hulle verstaan dat die publiek geïnteresseerd is in wat hulle doen maar dink nie dit regverdig foto’s van hul private aktiwiteite nie,” het Paddy Harverson, woordvoerder vir Prins Charles, gesê.
Die koninklike familie sal vir die volgende paar weke by hul landgoed in Norfolk bymekaarkom vir Kersfees.
Voorheen het vryskutfotograwe ure spandeer daaraan om die omgewing dop te hou in die hoop om foto’s van die familie te kry, maar hierdie jaar sal dit hulle wees wat dopgehou sal word en paaie in die omgewing sal ook gemonitor word.
- Sapa