Konfrontasie dreig oor ‘kernprogram’
2009-09-30 07:24
Leipold Scholts
Washington - 'n Konfrontasie dreig vandeesweek tussen Iran en die VSA oor eersgenoemde se beweerde kernwapenprogram.
Net enkele dae nadat pres. Barack Obama van die VSA die bestaan van ’n geheime Iranse ondergrondse kernaanleg buite die heilige stad Kom onthul het, het Iran verskeie kort- en middellangafstandmissiele uitdagend getoets.
Die sogenaamde Sjahab-3, die middellangafstandmissiel wat getoets is, kan sowel Israel as Amerikaanse troepe in Irak en Afganistan bereik. As Iran daarin slaag om binne afsien-bare tyd kernwapens te ontwikkel en dit op die missiele te monteer, kan dit die veiligheidsituasie in die Midde-Ooste dramaties beïnvloed.
Iran moet nou sy geheime aanleg buite Kom by die Internasionale Atoomenergie-Agentskap (IAEA) in Genève verduidelik. Luidens berigte sal se-nior diplomate van die VSA, Duitsland, Frankryk, Rusland, China en Brittanje die Iranse verteenwoordigers daar konfronteer.
Die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) het reeds verskeie resolusies aangeneem waarin Iran se kernprogram veroordeel word. Daarby is die ontwikkeling van kernwapens ook teen die kernsperverdrag, waarvan Iran ’n ondertekenaar is.
Iran ontken dat hy sulke wapens ontwikkel en hou vol hy wil net kernenergie vir vreed-same doeleindes ontwikkel, maar internasionaal word dit nêrens geglo nie. Die vraag is wat die internasionale gemeenskap teen Iran gaan doen, want die menings is sterk verdeel.
Die VSA en Israel wil sanksies hê, soos ’n totale olie- en gasboikot, maar feitlik niemand anders wil so ver gaan nie. Veral Rusland en China het miljarde in die ontwikkeling van Iranse olie- en gasvelde belê en sal skade ly weens so ’n boikot.
Selfs die belangrikste Europese lande is versigtig daarvoor, want hulle vrees dit kan die Iraniërs agter pres. Mahmoed Ahmadinedjad verenig.
Obama het dit duidelik gestel sy voorkeur is om Iran op diplomatieke vlak te takel, maar alle middele – ook militêr – is op die tafel. Israel, wat klaar militêre aanvalsplanne en selfs al sy lugmag vir aanvalle laat oefen het, laat die inisiatief voorlopig aan die Amerikaners oor.
Afgesien van wat in Genève gebeur, is dit duidelik daar lê gevaarlike konflikmateriaal rond.
- Beeld