Kommer oor 'burgeroorlog' in Sirië
2012-10-29 14:06
Damaskus – Minstens 10 mense is dood in 'n ontploffing in die gebied van Jaramana naby Damaskus, het die Siriese staatstelevisie Maandag berig.
"'n Terroriste-motorbomaanval langs 'n bakkery in Rawdastraat het die lewe van minstens 10 mense, insluitend vroue en kinders, geëis," het die kanaal berig.
Lakhdar Brahimi, vredesgesant van die Verenigde Nasies (VN), het ná samesprekings met Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, gesê die konflik in Sirië vererger,
"Die Siriese krisis is baie, baie gevaarlik. Die situasie is erg en is besig om te vererger," het Brahimi aan joernaliste gesê.
"Wat in Sirië besig is om te gebeur, is 'n burgeroorlog. As dit nie 'n burgeroorlog is nie, weet ek nie wat dit is nie."
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP