Komediant tronk toe wat koninklikes beledig
2013-01-17 07:49
Bangkok – 'n Komediant en ondersteuner van die sogenaamde Rooihemp-beweging in Thailand is Donderdag tot twee jaar tronkstraf gevonnis omdat hy die land se koninklike familie tydens 'n toespraak by 'n massabyeenkoms in 2010 beledig het, het sy prokureur gesê.
Yosawaris Chuklom, 54, wat onder die verhoognaam Jeng Dokchik optree, is skuldig bevind op grond van 'n Thaise wet wat dit 'n oortreding maak om die land se koning, koningin of ander koninklikes te beledig. 'n Skuldigbevinding kan tot tronkstraf van 15 jaar lei.
Die komediant, wat ook teregstaan op aanklagte van terrorisme vir sy rol in Rooihemp-betogings in Bangkok in 2010, doen om borgtog aansoek terwyl hy tegelykertyd appèl aanteken teen die jongste uitspraak, het Thamrong Lakdaen, sy regsverteenwoordiger, gesê.
"Hy is aanvanklik ot drie jaar tronkstraf gevonnis maar die regter het die vonnis tot twee jaar verminder weens die bewyse wat hy gelewer het," het hy aan die nuusagentskap AFP gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP