Kokaïen in vrou se borsinplantings gevind
2012-12-13 08:38
Madrid – Die owerhede in Spanje het 'n vrou van Panama by die internasionale lughawe in Barcelona in hegtenis geneem nadat sy met 1,38 kg kokaïen, wat in haar borsinplantings versteek was, betrap is.
Die ministerie van binnelandse sake het Woensdag in 'n verklaring gesê die vrou se borskas is met bloedbevlekte verbande bedek en daar was littekens aan haar bolyf.
Die vrou het aangevoer dat sy onlangs 'n operasie ondergaan het om silikoon-borsinplantings te kry.
Volgens die verklaring het die polisie agterdogtig geraak en haar na 'n hospitaal gestuur waar die inplantings verwyder is en die kokaïen gevind is.
Die vrou het vanaf Bogota, Colombia in Spanje aangekom.
Besoekers uit Latyns-Amerika word fyn dopgehou en gereeld by lughawens in Europa deursoek in 'n poging om dwelmsmokkelary te bekamp.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP